Thursday 3 April 2014

Verkenningstog deur die Karoo

‘n Hele tydjie terug het ek en my swaer Spykerkuif een dag ‘n draai met die fietse gaan ry. Toe ons terug by die huis kom het ons ‘n lafenissie vir die keel gevat en aan die gesels geraak. Die onderwerp van die bespreking: Wanneer gaan ons ‘n naweek met ons fietse toer en slag grondpad ry?? Die paaie aandurf waarvoor hulle eintlik gemaak is??
Dadelik het ons ‘n kalender uitgepluk en begin kyk na wanneer pas ons albei. Enigste datum wat albei gepas het was die naweek van die 28-30ste Maart.
Sommer net daar maak ons die naweek toe vas en ek begin beplan aan ‘n roete en al die fynere detail rondom die trippie.
Die besluit word toe gemaak dat ons soveel as moontlik grondpad wil ry en ook paaie wat ons nog nie gery het nie. Van al die lees op die forums en ook Deon Meyer se Ridders van die Grondpad, het 2 paaie vir my uitgestaan: Witteberge om na Laingsburg, en Ouberg pas buite Sutherland. Na so bietjie rondvra en navorsing vra ek toe my pa hoe ons kan ry. Die antwoord was maklik, Witteberg regs na Konstabel stasie, ry tot by die teerpad tussen Laingsburg en Ladismith, regs tot in Laingsburg en dan met die Moordenaarskaroo pad deur tot in Sutherland.  Vandaar na Ouberg Pas, af in die Tankwa in deur Tankwa Nasionale reservaat tot by die R355(Pad tussen Ceres en Calvinia) links na die Padstal en dan terug Ceres en Worcester toe. Ek het sommer op my foon die roetes begin plot net sodat ek ‘n gevoel kan kry oor die afstande en wat ons kan verwag. Uiteinde was dat ons so 300km per dag gaan doen en die Sondag heel moontlik so meer na 400km. Met dit in gedagte het die soektog na verblyf begin. Ek was al in Sutherland en Middelpos en Middelpos het vir my ‘n redelike bekoring ingehou so ek sou baie graag daar wou oorbly in die hotel
Bietjie rondgebel en pryse begin kry. Aangesien ek op ‘n budget werk van R1000 wou ek die verblyf so goedkoop as moontlik doen. Na bietjie rondvra het Basson(Dooie Rot) en my broer Emile my verwys na Rudi op Sutherland.
Intussen het ek uitnodigings uitgestuur vir die res van die manne om te hoor of van hulle dalk wil saamry. Robin het sommer dadelik gesê hy is in. Johan het so rukkie later laat weet hy is in. So ons was viermanskappe sterk. Ek het Rudi gebel en pryse en beskikbaarheid gevra en ek het sommer bespreek.
 Na die bespreking het Richard besluit dit is tyd vir trou en daar loop ek vir Rudi en Lilanie op die troue raak. Ons raak aan die gesels en kort voor lank weet Rudi van die trip en se hy maar die storie klink vir hom lekker. Ek en Kanarie(Robin) sê toe sommer vir hom maar dan moet hy inval en saamgaan.
Nou ja om ‘n lang storie kort te maak, besluit Rudi hy gaan saam, nooi sy broer Deo saam en Chatillon besluit hy is ook in. En daar kom die finale getal op 7 te staan.
Die week in aanloop begin ek toe ‘n “countdown” met die aantal dae na Vrydag oor. Ons almal sou die Vrydag op Worcester bymekaar kom en lekker braai en kuier by my ouers se huis en dan die volgende oggend vandaar vertrek.
Ek het intussen die Saterdag voor die trip my fiets lekker gewas en sommer gekyk of als reg is, toe kom ek agter daar is speling op die sprocket carrier. Haal die agterband af en voel die bearings en toe weet ek hier is fout. Begin oplees oor die bearings en toe begin die uithaal proses. 3 ure later en bietjie sukkel en die bearings is uit. Nou moet daar nuwes gekoop word en ingepress word. Gelukkig het ek vir Izak(Dynotech) gevra of hy ‘n press het. Hy het gesê ek kan enige tyd kom dan press ons hulle gou in. So gemaak en daar press ek en oom Cassie hulle in. Die 2 wheel-bearings het ons gelos en ek sou hulle sommer by die huis intik. By die huis gekom tik ek hulle in en sit als aanmekaar.
Kort storie lank het ek die wiel nog 2 keer na dit afgehaal, die ou bearing wat ek weer ingetik het(dit was die donker se skuld) weer vervang met ‘n nuwe een en als reggekry vir die trip.
Intussen het Janna(Johan) laat weet dat sy fiets gediens moet word voor die trip en Spykerkuif(Philip) het toe sommer gesê ons doen dit gou die Vrydag aand.
Vrydag het gekom en ek lê al van 3:40 af wakker. Opgestaan en maar TV gaan kyk. Toe ek van die bank opstaan weet ek daar’s GROOT fout. Spasma in my nek en rug en hierdie was een wat nie sommer gaan skietgee nie.
Paar pynpille later en ‘n koffie en ek is werk toe. Hele dag deur het ek met die pyn geworstel en geweet hier le een LANG naweek voor. ‘n Hele handvol pille uit verskillende oorde het die pyn darem so effens verdoof.
Vrydag het ek en Robin afgespreek en mekaar op die Du Toitskloof pas gekry en vandaar rustig gery na Worcester. Daar aangekom het Spykerkuif, Janna en Chat net daar aangekom en die diens van Janna se fiets het begin.























 Daarna het ons verskuif na Elma se huis en vuur opgesteek vir ‘n lekker braai. Die braai was toe so lekker dat ons eers na 1:00 in die bed gekom het. Dit klink dalk vroeg maar as jy 5:00 moet opstaan en 300km die dag in die saal gaan wees. Nodeloos om te sê lê ta mos toe al van 4:00 af wakker. Ons het opgestaan en vinnig begin klaarmaak en begin opkit.

Spykerkuif het hier op ‘n stadium gebel en gevra hoe ver is ons, toe laat weet ek maar ons wag net vir hulle. Hulle het arriveer ons almal het so stuk stuk begin wegtrek. Eerste stop is Caltex buite Worcester sodat almal kan volmaak. Daar aangekom is die pompe toe en die besluit ons om deur te stoot na De Doorns.








Op De Doorns het ons volgemaak en volgende stop was Hexrivier pas vir ‘n foto met die mooie Hexrivier Vallei in die agtergrond.
Vandaar het ons letterlik net die pas geklim tot ons weer by ‘n padwerke stop gekom. Hier het ons so bietjie vertoef en vandaar die pad ingeslaan na Touwsrivier waar ons weer op ‘n padwerke stop afgekom. Hier het ons gou by die Steers gestop, van die manne was redelik honger op die stadium en verskriklik dors.
‘n Goeie uur later het ons weer beign ry en ek het toe maar voorgevat aangesien ek geweet het presies waar die afdraai is. Ek het maar effens Saagie se oor gedraai en die pap aangemaak tot by die Witteberge afdraai . Toe almal daar was het ek weggetrek en nie lank nie toe verskyn daar ‘n KLR in my spieel en toe sien ek net sy liggies voor my kleiner raak. Ek het stadiger gery sodat die manne kan verbykom sodat ek die Sweeper kan wees en sorg dat almal veilig is.











Die manne aan die voorkant het gelukkig met ‘n sak vol planne die naweek aangedurf en elke keer as hulle stop was dit die perfekte plek vir ‘n vrag goeie fotos. Ons 2de stop het ons eers overshoot en toe teruggedraai. Venue: ‘n dam met lekker grond/sand en ‘n mooi berg in die agtergrond!



Nou DS fietse, sand en ‘n klomp jongmanne spel net een ding. MARAKKAS!!!!
Sommer met die inry slag is die eerste vore getrek en toe weet ek hier gaan dit lekker gaan. Ons het die fietse almal langs die dam staangemaak en fotos het begin vloei.


 Toe kry iemand die briljante idee om video te maak. Wat dan nou mooier as klomp fiets wat een na die ander wegtrek en bietjie sand opskop. En toe maak ons ook sommer so!




Vandaar het ons gery en toe gebeur die eerste groot insident vir die naweek.: Kanarie koop vir hom ‘n stukkie grond in die Karoo. Gelukkig het hy die grond mooi uitgesoek. Sagte sand net voor ‘n motorhek. Ek het agter hom gery op daardie stadium en toe hy aankom na die motorhek en ek sy lyn sien het ek geweet hier kom moeilikheid. Als het in slow-mo gebeur. In kort deur Johan opgesom in Baaaaaaarppppp baaaaaaaaarpppppp!!! Doef. Tikke tikke tikke. Killswitch!!! Killswitch!!!!
Aansienlik later dieselfde aand het Kanarie homself vorendag gekom met: Die sand het soos donsveertjies gesit op Tweety se lyf.
Verder langs die pad het ons gestop vir ‘n vinnige smoke-break en toe hoor ons Chat sit verder in die pad af hy ‘n watersplash om fotos te neem. Ek het toe gesê ek ry eerste sodat ek ook kan neem soos die manne verbykom.
Ons het ‘n klompie awesome fotos geneem en weer opgesaal en verder gery. Ek was so 4 in die groep en letterlik om die volgende draai vang iets my oog in die pad. Soos ek nader kom sien ek Mr Po Fadder in die pad bietjie lê en son vang. Ek het omtrent rem getrap en redelike strepe in die pad gelos. Die manne na my het ook ernstig gerem en gevra wat is fout?? Ek vra toe of hulle die pofadder gesien het en sê nee, hulle weet van niks. Ons het gou omgedraai en daar lê ta, salig en baas van die stofpad. Na ‘n intensiewe foto-sessie het hy besluit genoeg is genoeg en omgedraai en rustig weggeseil.
 Bietjie verder in die pad af kry ek vir Rudi en Deo. Nadat ons die fietse afgesit het vra Deo: "Hoor jy dit?" Ek click dadelik waarvan hy praat maar antwoord nie. Hy vra weer: "Hoor julle dit??" Ek antwoord toe ja. Rudi sê toe maar hy hoor niks. Deo se antwoord:"Presies."





Hierdie vallei is so kompleks in sy eenvoud. Die stilte raas in jou ore. EN DIS WONDERLIK!!!!
Van hier het ons die pad gevolg en in Laingsburg uitgekom. Met die groot reëns so rukkie terug het die rivier ernstig afgekom en die gevolge is nog baie sigbaar. Ons het besluit Wimpy is die aangewese plek om die innerlike bietjie te versterk. In die Wimpy het die kelnerin vir 'n ligte oomblik gesorg. Janna het 'n Dagwood bestel en soos die gewoonte is vra die kelnerin vir Janna, Mnr, hoe soek u die eiers? Ek en Johan het mekaar so gevang met die oog en gesmile. Met die haak die kelnerin af en sê: "Saggies gestreel met lang naels?" EN TOE BARS ONS UIT VAN DIE LAG!!!! En sê so gelyk: O, JY KEN!!!.  Met die instap het my oog die TV gevang, Stormers was 13-10 agter.



Sommer daar en dan is daar besluit die ete moet vinnig gaan, sodat ons nie die loesing kan gade slaan nie. Oppad na die Moordernaarskaroo afdraai het ons gou by die drankwinkel gestop vir ‘n koeligheidjie vir die pad en vandaar die Karoo aangedurf.
Ek het die pad BAIE lank terug gery saam my ouers toe ek nog kind was, maar ook net tot op Rondawel waar daar familie geboer het.  Na Kanarie se grondkoop ekspidisie het die agterste wheel-hugger baie los gesit. By nadere inspeksie was hy gebreek en die kanse was daar dat hy tussen die speke kan beland en die remvloeistof potjie kan beskadig. Ons het hom afgehaal en besluit om die wheel hugger af te sny sodat ons hom kan terugsit. So gesê so gedaan maar hy was toe so dat ons hom nie kon terugsit nie. Toe word hy ge-cable tie aan my pannier frame. Van hier het ons redelik sonder insident gery. Erens langs die pad het ek vir Janna verbygegaan, Hy het langs die pad gestaan en strek soos ‘n ou wat oefen vir ‘n body building kompetisie. Ek het gewaai vir die ou en langs die pad het hy weer ingehaal. Rede vir die strekkery was toe ‘n spier-spasma. Janna het langs my ingeval en ons het toe al staande soos die manne van ouds langs mekaar staan en ry vir LANK!!! Dis nou vir die mense wat kan onthou, die storie CHIPS se tipe langs mekaar ry.

'n Entjie verder het ons gestop nadat ons deur die rivier gegaan het en toe hoor ons 'n interessante brokkie inligting. Kanarie was nie die enigste een wat geval het nie. Spykerkuif het self sommer so staan-staan geval. Eenkant van die bike opgeklim en anderkant afgeval!! Gelukkig was die ego meer geskend as die Twin en kon ons darem lag daaroor na die tyd.

Die Twin is OK.

Matewis strek bietjie die spiere.


Die pad vanaf Rondawel tot by Komsberg se uitdraai het aansienlik versleg en dit kan toegeskryf word aan die reëns die week vantevore. Ons het vir ‘n redelike tydjie gery wat daar slegs een paar spore was wat na die reën die pad gebruik het. By Komsberg se kruis het ons gestop en vandaar het die manne die stuk ingesit Sutherland toe. Halfpad teen Komsberg pas uit het ek gestop om die mooi vallei wat aan die linkerkant oopmaak in te drink en fotos te neem.





Ek het daarna die laaste stukkie uitgery en kon toe nêrens stof sien nie. Dit het een ding beteken, die manne het bietjie die perde se ore gedraai. Ek het die pad so geloer en kon sien hy is in ‘n baie goeie toestand en lat wiel in die rigting van Sutherland.

Die glimlag se alles. En daar was sommer baie van hulle.
Buite Sutherland het ons nog ‘n foto of 3 geneem en toe die dorp ingevaar. Eers reguit OK toe aangesien niemand geweet het hoe laat hy toemaak nie. Nadat ons klomp goed gekoop het, het ons ons slaapplek gaan soek. Hier het ons ingeboek, verblyf betaal en toe het Paul ons aangeraai om te gaan kyk of die petrolpompe oop is aangesien ons dan eers die volgende dag teen 12:00 petrol gaan kan kry.
Gelukkig vir ons was daar ander mense wat ook pestroleum gesoek het en ons het gou volgemaak. Vandaar is ons terug OK toe om hout en Coke en ys te kry. Hier het ons sommer foelie, aartappels, uie, botter, Aromat, Salt & Pepper seasoning  en mushrooms ook gekry.
Terug na die blyplek, als afgelaai en toe is dit tyd vir ‘n welverdiende lafenissie vir die keel. Enkel Kaptein en Coke het soos nog geproe in Sutherland se Hotel.


 Spykerkuif(Philip), Ninja(Chatillon), Kanarie(Robin) vlnr
Klossie(Deo) , Hommel(Rudi), Matewis(Jaco), Janna/Grootseun(Johan) vlnr








 Ons het so bietjie vertoef en na die 2de ene het ons besluit dis tyd dat die vuurtjie aan die gang kom en ons ‘n vleisie tan.
Vuur is gemaak en Kanarie het dit reggekry om die vuur te stook sonder om sy donsies te verbrand. Kanarie het vir my, Spykerkuif en himself lekker t-bone steak by Goeie Hoop slaghuis in die Paarl gekry. Nou om dit in perspektief te stel, die steaks het so 800g een geweeg, 3cm+ dik en sappig! Ons was so bietjie lui en koop toe sommer garlic broodjies vir saam met die ete.
Ek en Janna het toe weggetrek en die kardoesies begin maak. Nou vir die mense wat nie weet nie, jy vat foelie, sit hom neer met die blink kant na bo. Dan sny jy jou groente op, sit dit in die middle van die foelie, sit ‘n bottertjie, Aromat en sout en peper by en maak hom toe sodat hy dig seël bo. Die groente kan enige iets wees, van blomkool en broccoli, brussel sprouts, wortel en so kan ek aangaan. Hierdie pakkie/kardoesie word dan op ‘n rooster met matige kole gesit en gestoom tot hy lekker gaar en sag is.
KONINGSKOS!!! Janna het die steak vir ons meesterlik gebraai en kort voor lank het daar ‘n effense stilte begin daal soos die manne ‘n slag hulle kake vir iets anders begin aanwend het as nonsens praat. Soos ‘n klomp manne bymekaar maar is was borde opsioneel en het ons sommer van die rooster af geeet. Deo het wel besluit om ‘n bord te gebruik maar die is kort na ete gewas met Sponsie en Sunlight Liquid wat sy vrou ingepak het. Rudi, Deo en Chattilon het toe besluit dit is tyd vir oë rus en het hulle beddens gaan opsoek.
Ek, Spykerkuif, Janna en Kanarie het besluit ons gaan nog bietjie vasstaan en het verder gebraai en gekuier. Hier teen 00:30 het ons ook katel se kant toe begin staan. Na ‘n gebadtery en handdoek stelery het ons die beddens gevind en ingesluimer vir ‘n goeie nagrus.
Nodeloos om te sê, ‘n klomp mans in dieselfde kamer, almal weet daar moet geslaap word, maar niemand is eintlik al lus vir slaap nie. Het ons die grootste klomp nonsens gepraat en kwytgeraak waaraan mens kan dink. Wishlist vir verjaardag en X-mas, 'n Go-Pro sodat ek al hierdie dinge kan vaslê op film!
Toe ons uiteindelik tot rus kom was die nag se slapie maar kort. Die rede vir die Go-Pro is eintlik om die manne se verskillende snork-style op video vas te vang.

Sondag môre 5:00 het die eerste wekker afgegaan en ‘n moeë hand het hom doodgeklap. Ons het so stelselmatig begin opstaan en begin klaarmaak.
Janna se steakie! MOOI gegarlic!
Ons slaapplek vir die nag van agter gesien.



STREK!!!!!! Hier lê 'n lang dag voor.
Kanarie probeer nog die laaste bietjie slap uit die dag wurg.
Spykerkuig besig om hom mooi te maak vir die torre en skape langs die pad.
Hierdie foto is vir my nogal spesiaal. Nadat ons die foto geneem het, het ons weer terug na ons fietse gestap. Rudi(Hommel) het gesê ons is voor die kerk, kom ons doen 'n gebed en vra vir bewaring op die pad. Spykerkuif het ingespring en gesê hy sal bid. Net daar het ons in 'n kring gestaan en Spyker het vir ons gebid vir bewaring en dankie gesê dat ons so bevoorreg is om die skepping op so manier te verken.
Ons het opgestart en vir oulaas die hoofstraat toegemaak met bikes vir 'n vinnige kiekie of 6. Vandaar het ons gery tot by Ouberg se afdraai.
Ek het 'n mental note gemaak dat ons defnitief moet terugkeer sodat ons kan gaan sterre kyk en volgende keer gaan ons in Middelpos slaap en Gannaga-pas  ry.


                                    
Matewis en Kettingsaag was hier.

 By die afdraai na die Tankwa/Ouberg pas het ons gestop vir 'n foto en 'n geselsie en vandaar gery tot ons aan die bopunt van Ouberg Pas gestop het.
 Janna was verskriklik bly oor die grondpad!
 Janna wou die bord uithaal en saamvat.
 'n Lekker groepfoto by die bord.
 Ons resident NINJA
 En die Ninja kan dans ook!
Kanarie!!! TWEET TWEET.
 Ek het gereken dit sal goed wees om van elke ou op sy eie 'n foto of 5 te h aan die bokant van die pas.
Rudi en Humble Bee

 Een van Kanarie se AWESOME Panoramics!
 Ouderdom begin wys. Die laat nagte eis hul tol. Spykerkuif rus bietjie oë.
 Ek is reg vir hom.
 Ons gaan NOU hier af.
 DEO(Klossie) laat Superman skaam lyk.
 Janna een van die 2 ridders in en van Swart. Hahahaha












 Matewis en Saagie reg vir die rit
Vinnige stop net om te kyk ons is nog op die regte pad.
                                             
Tankwa het begin warm raak so ek het my broek en baadjie se thermals uitgezip en is vasgevang op kamera
 Melkie vir jou???
 Die Hommelby lyk maar vir my swaar op sous.

 Janna, is dit skoon Coke daai?? Ons span bietjie uit by Oudebaaskraaldam.
                                         
 Die laaste stukkie van Oudebaaskraal het ek vir 'n lank ruk voor gery en die pap redelik aangemaak. Ninja is later by my verby en ek het hom eers weer by die Padstal gesien. Die feit dat ons die stukkie vinniger gery het, het meer tyd losgemaak sodat ons lekker rustig by die Padstal kon kuier. Met ons aankoms by die Padstal het Ninja die volgende woorde ge-uiter: "As ek vandag geval het, het ek my binne-in 'n Boesman tekening geval!" LEGEND statement. 
 Rudi skop bietjie stof op.
 Kanarie lyk heel in sy element hier in sy wêreld.
 GoPro, Pooratech style.
 Ons sit rustig op die stoep by die Tankwa Padstal.
 Robin is connected met die mense by die padstal en kort voor lank het ons sommer vuur aangesteek en die wors wat oor was warm gemaak. Dis seker een van die redes hoekom die Tankwa Padstal so gewild is, die mense is gemaklik en 'n kuier gebeur sommer so sonder dat jy dit beplan.
 Hierdie ou stamperboor was vir my baie spesiaal. My oupa het presies so ene gehad en ek kan onthou hoe ek naweke tyd saam met hom by die boor spandeer het. In die agterplaas by die huis op Laingsburg het daar gewoonlik hopie grond en stukke klip gelê en met dit kon oupa Hans met redelike akkuraatheid sê hoe ver ons van water af was. Om te boor met hulle is harde werk en 'n harde lewe, maar as jy die Karoo ken en al gesien het hoe skape dors lei verstaan jy beter watter genoegdoening en vervulling mens kry uit 'n aar water raakboor in die dorre Karoo. As jy ooit eendag die geleentheid het om by 'n boor te stop en te sien hoe daar geboor word, en 'n water-aar raak te boor, met die water wat jy hoor opruis in die gat en dat die hoogte van die toring bo uitspuit. Dan, sal jy dalk die kosbaarheid van water verstaan. Touch of Class met hul liedjie - Dans in die Reën vang hierdie gevoel baie mooi vas. Mens sien  stamper-bore nie meer so prominent nie aangesien meeste mense nou met lugdruk-bore werk.
 Ons groepie se ysterperde voor die Padstal
 Rudi het sommer vinnig vir ons 'n klompie broodjies gereel en mensig was dit leka!!

Ons Ninja span bietjie uit by Touwsrivier se afdraai
 Loshande oor die witbrug!!
Op 'n lekker naweek!!! BOOOOOJAAAAAAAA
 
As die fiets so lyk, kan julle julleself indink hoe sy drywer lyk??
Kettingsaag sien die son sak in die Weste.


Hierdie was verseker vir my 'n naweek vir die boeke. Ons het almal die naweek geniet en almal het veilig terug by hul huise gekom. Ons almal se fietse was heel en ons het voorspoedig gery. Wat meer is, almal in die groep kon stop en net die natuurskoon bewonder en waardeer. Ek moet se dit was regtig 'n voorreg om hierdie ondervinding met hierdie groep mense te deel.

En so lief soos ek vir gatskuur is, is hierdie die begin van vele. Dit was vir my wonderlik hoe almal ingeskakel het en elkeen sy deel gedoen het sonder om te kla. Elkeen wat die naweek meegemaak het, het male sonder tal gese dat ons meer ons nabye omgewing moet verken. Paaie ry wat ons nog nooit gery het nie. En plekke gaan sien wat ons net kan droom van!

No comments:

Post a Comment